Welkom by ons Webtuiste
Die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika is 'n lewenskragtige evangeliese kerk wat op 'n Gereformeerde grondslag berus. Moontlik het u nog nooit met die Kerk kennis gemaak nie.
Dit mag selfs wees dat u nog nooit van die Kerk gehoor het nie. Deur verdraaide of gebrekkige inligting mag dit wees dat u 'n verkeerde begrip omtrent die Kerk het.
- Ons aanbidding
- Ons toerus van mekaar vir bediening
- Ons persoonlike lewenstyl
- Ons omgee vir mekaar
- Ons uitdra van God se evangelie aan die wêreld
Die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika reik die hand van vriendskap en welwillendheid na elke Christus-belydende Kerk. Hierdie Kerk distansieer hom geheel en al van die Wêreldraad van Kerke sowel as die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en alle ander affiliasies van genoemde rade.
Ons beskou dit as 'n besondere voorreg om u langs hierdie weg in te lig en beter kennis te laat maak met die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika.
Wie is ons
Die Grondslag van die Kerk
Die Kerk is gefundeer op die Heilige Skrif, die onfeilbare Woord van God.
Die leer wat die Kerk, op grond van Gods Woord bely, is Evangelies-Gereformeerd en dit word uitgedruk in sy evangeliese belydenis en ook die Gereformeerde belydenisskrifte, naamlik:
- Die drie formuliere van Enigheid en
- Die Evangeliese Belydenis
Die Boodskap
Tereg kan ons met die apostel Paulus gesê word: "Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus en Hom as die gekruisigde". Die kruisboodskap wat deur die Kerk uitgedra word sluit die volgende in:
- Die verlossing en redding van verlore sondaars (Ef. 1:7) en dat 'n mens in hierdie lewe sekerheid van saligheid kan bekom (1 Joh. 5:13)
- Die vervulling met die Heilige Gees (Ef. 5:18) en Heiligmaking wat die wil van God is vir Sy kinders (1 Thess. 4:7,8)
- Die persoonlike Wederkoms van Jesus voor die 1000 jarige Vrederyk (Openb. 19,20)
- Die Evangeliese Belydenis
- Die Genesing van die liggaam op grond van die Versoening van Christus Jesus (Matt. 8:17,18)
- Die Kerk aanvaar die Formuliere as ondergeskik aan die Woord van God.
Aanbidding
Kenmerkend van die vorm van aanbidding is dat dit ordelik, meelewend en onder leiding van die Heilige Gees geskied. God staan sentraal in hierdie vorm van aanbidding, want aan Hom kom toe al die waardering, lofprysing en dank in die erediens terwyl die mens sekondêr is.
-
Oggenddienste
Tydens die oggenddienste word liedere insluitend Skrifberymings, Psalms, Gesange, Hallelujaliedere en ander Geestelike liedere gesing. Die voorlees van die Wet, of die samevatting daarvan, asook die lees van die Geloofsbelydenis word in die ritus van die erediens ingesluit.
-
Aanddienste
Die aanddienste word gekenmerk deur vurige evangeliese boodskappe wat gerig word tot verlorenes om diegene wat gewillig is om hulle te bekeer, te lei tot sekerheid van saligheid. Tydens die aanddienste word liedere insluitend Skrifberymings, Psalms, Gesange, Hallelujaliedere en ander Geestelike liedere gesing.
-
Eredienste
Die Kerk beskou die bywoning van eredienste as uiters belangrik, enersyds om lidmate in die geloof te versterk
Leerstellings
- Die Bybel is die onfeilbare en ewige Woord van God en is woordeliks geïnspireer.
- God is enig in Wese en tog onderskeie in drie Persone, nl. Vader, Seun en Heilige Gees.
- Jesus is die ewige en enige Seun van God, wat die enigste Middelaar tussen God en die mens is.
- Die mens is van nature in 'n vervalle toestand. Sy totale verdorwenheid en onvermoë tot geestelike deugde maak Wedergeboorte noodsaaklik om die Koninkryk van God te kan beërwe.
- Die verlore sondaar kan redding uit sy verlore toestand alleen deur die genade bekom, deur geloof in die plaasvervangende dood en die gegote bloed van Jesus Christus ons Heer, opgestane Heiland en Verlosser.
- 'n Persoon moet deur belydenis en bekering van sonde Jesus Christus bewustelik aanneem as persoonlike Saligmaker en Verlosser, waar God die werk van Wedergeboorte in die hart van die mens doen, sodat hy hemel toe kan gaan. Wedergeboorte is dus 'n daad wat God doen op grond van die Versoeningsbloed van Christus, wat die mens bewustelik in hierdie lewe ondervind en waardeur hy sekerheid van saligheid ontvang.
- Die Vervulling met die Heilige Gees vir die kind van die God is noodsaaklik. Dit stel hom/haar instaat om heilig en oorwinnend te lewe asook om vir God te getuig en siele vir Christus te wen - d.i. die ampsbediening van die gelowige.
- Die ware Kerk, die liggaam van Christus, bestaan uit almal wat weergebore is oor die ganse wêreld, van watter taal, land of nasie hulle ook mag wees. Daarom mag alleen hulle wat lede van hierdie Kerk is as lidmate van die Gemeente en so van die Kerkgenootskap toegelaat word.
- Jesus Christus, aan die regterhand van God die Vader, waar Hy nou vir Sy kinders voorspraak doen, is die enigste Hoof van die Kerk.
- Christus se groot sendingopdrag aan sy Kerk, "Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom", moet gehoorsaam word deur plaaslike en wêreldwye evangelisasie.
- Die persoonlike Wederkoms van Jesus Christus voor die 1000 jarige Vrederyk word bely. (Die Wederkoms van Christus geskied in twee fases. By die eerste fase, wat net tot in die lug sal wees, kom Jesus sy kinders wegneem. By die tweede fase kom Hy tot op die aarde om hier saam met sy heiliges te regeer). Hierdie beskouing van die Wederkoms staan bekend as Chiliasme.
- Die Kerk bely die opstanding van die verlostes tot die ewige lewe en vreugde in die hemel en die opstanding van die verlorenes tot die ewige straf - die poel van vuur.
Doelstellings
Doelstellings van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika.
Die Kerk stel hom die volgende doel:
- Om die Drie-Enige God te verheerlik en sy Koninkryk uit te brei.
- Om die suiwere vrymakende evangelie, wat in staat is om te red en lewens te verander, met ywer in krag van die Heilige Gees te verkondig. Ons doel is dus om die evangelie tot sy reg te laat kom, nl. om mense eers vertikaal met God te versoen en dus hul verhouding met God reg te stel. 'n Veranderde hart en nuwe lewe lei dan noodwendig tot 'n horisontale versoening en 'n gepaardgaande beter verhouding tussen mense.
- Om voortdurend te streef na vernuwing, asook varsheid van getuienis, ondervinding en boodskap, om daardeur te waak teen verval in dooie formalisme. Leersuiwerheid moet gepaard gaan met egte lewensvroomheid.
- Om hom te beywer vir die kragtige uitbreiding van die Kerk van Christus en dit word vermag deur die kinders van die Here op te roep tot ware Bybelse Heiligmaking en Vervulling met die Heilige Gees en so to te rus vir hulle dienswerk.
- Om as Kerk dinamies te wees vir tyd en om in die geestelike behoeftes en nood van mense te voorsien.
- Om 'n ware tuiste te wees vir evangeliesgesinde gelowiges wie se erns dit is om geestelik te groei en die Here te dien in 'n Evangelise-Gereformeerde atmosfeer, waarin die Heilige Gees werksaam is.
- Om elke gelowige binne die Kerk ruimte te gee om met sy/haar besondere gawes te werk vir uitbreiding van die Koninkryk van God in die wêreld, d.w.s. 'n egte belewenis vir aktiewe deurleefde Christenskap.
- Om die gemeente in die algemeen en in elke lidmaat afsonderlik effektief te versorg deur middel van persoonlike belangstelling en toegespitste ampsbediening van Leraar en Kerkraad in getroue huisbesoek en voorbidding.
- Om die getroue toepassing van die norme van die Woord van God te handhaaf.
Predikante
Die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika beskik oor 'n eie Teologiese Seminarie waar predikante vir die bediening opgelei word. Persone met 'n duidelike getuienis van Wedergeboorte en Roeping word tot die Seminarie toegelaat. Die minimum akademiese vereiste is matriek en die opleiding duur vyf jaar.
Die predikante van die Kerk het deur die jare wat verby is gestrewe om met groot omsigtigheid en waaksaamheid die fundamentele en behoudende benadering van skrifinterpretasie te huldig en te verdedig.
Wat die toekoms betref, solank as wat die Heer vertoef om te kom, stel die Kerk hom ten doel om met alle ywer en deernis op te tree teen allerlei vreemde en bedenklike religieuse verskynsels wat simptomaties is van die huidige tyd van godsdienstige verwarring en verval.
Daarom word lidmate van die Kerk terdeë ingelig en gewaarsku teen hierdie verskynsel en moderne teologië soos hulle van tyd tot tyd op die horison verskyn.
Met groot beskeidenheid kan gesê word dat op hoogte gebly word met verwikkelinge en gebeure op die wêreldfront ten einde raad en leiding te bied op geestelike gebied teen verleidende geeste wat miljoene mislei in die laaste dae vlak voor die Wederkoms van Christus.
Silwerjeugaksie (SJA)
Sedert 1960, na ‘n duidelike roeping, was Hennie Pansegrouw direk betrokke by die Christelike Jeugvereniging. Na 40 jaar het hy uitgetree. Vir jare lank was hy reeds bewus van die geweldige leemte wat daar bestaan ten opsigte van die Senior Burgers van ons Kerk. Die Heer het deur die werking van die Heilige Gees ‘n las op sy hart geplaas om iets daadwerkliks daaraan te doen.
So is ‘n Senior Burgergroep in Krugersdorp op die been gebring. Vir ‘n jaar lank het die groep elke 14 dae byeengekom. Die byeenkomste het die vorm aangeneem van bidure afgewissel met gesellige geleenthede. Twee keer het die groep vir ‘n week na Klein Kariba gegaan. Sedert 1993 het die Badplaastoer ‘n jaarlikse instelling geword.
Na Sinodale toestemming is die Silwerjeugaksie van die Evangelies-Gereformeerde Kerk gestig. ‘n Sentrale liggaam is saamgestel en takke – elk met ‘n volwaardige bestuur, is gestig. Dit het soos ‘n veldbrand versprei en ons harte is in aanbidding teenoor die Here vir sy seën.
Die volgende 3 byeenkomste het ‘n jaarlikse instelling geword: ‘n Saamtrek tydens Maart; ‘n Silwerjeugkonferensie te Eden in September en in Oktober hou ons ‘n sangfees waaraan oud en jonk kan deelneem.
‘n Baie spesiale byeenkoms wat deur die SJA gereël is, was die 89ste verjaardagviering van die oudste lewende tweeling in ons land, di. Willie en Adam Grobler. By hierdie geleentheid is ‘n tjek aan albei oorhandig.
Die belangstelling was oorweldigend en die tafels het gekraak onder die heerlike verversings wat deur almal bygedra is. Ons was selfs bevoorreg om ‘n televisiespan van die SAUK in ons midde te hê.
Vir die toekoms is dit ons hartewens dat ‘n Silwerjeugtak in elke gemeente gestig sal word. Verder is dit ‘n groot behoefte om ‘n hand uit te reik na ons ouer emeritus leraars en die weduwees van ontslape predikante. In hierdie verband is daar reeds donasies ontvang en aan verskeie persone oorhandig.
Vroue Vereniging (CVV)
Die Sentrale Kommissie tesame met elke gemeentelike vrouevereniging stel hul ten doel om Jesus se opdrag in Matt. 28:19 – “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies” te gehoorsaam en die geestelike belange van elke vroue-lidmaat te bevorder.
Eensgesindheid en samewerking vereis dat voortdurend kontak gehou moet word met elke predikantsvrou en CVV lid. Briewe en kaartjies van bemoediging word op gereelde basis gestuur met Moedersdag, verjaarsdae, Kersfees en waar daar ‘n behoefte is. Die vroue van emeritusleraars asook damestudente se welstand lê ons na aan die hart.
Ons het almal voorbidding nodig en kan elkeen op só ‘n wyse betrokke raak deur ander se laste te help dra. Mag die Here u getrou hou om vir die Sentrale Kommissie met ons beplanning in gebed te dra.
Ons jaarlikse Vrouekamp gaan van krag tot krag en dit is ons visie dat vele dames geestelik opgebou sal word. Wysheid en insig word van die Here gebid in die opstel van die program.
Alleen die toewyding van predikantsvroue, hul ywer en meelewing kan van die 2 -jaarlikse Kongres waartydens die Sentrale Kommissie aan die Kongres verslag doen, ‘n sukses maak.
Dis ons begeerte dat elke gemeentelike vrouevereniging saam sal werk en getrou hul tiendes en verslae sal opstuur.
Spesiale Fondsinsamelings word baie goed ondersteun en aangewend om onder andere jong gemeentes finansieel te ondersteun.
Spanwerk en die gebedsondersteuning van elke voorbidder maak dit moontlik vir die Sentrale Kommissie om te volg waar Jesus Christus ons lei.
Die toekomsdroom van die Sentrale Kommissie vir ons as Christelike Vrouevereniging se “bootreis” met Jesus as ons Stuurman, is om:
- In Liefde
- Aanvaarding
- Nederigheid
- Saam te bid, te werk en te stry in die geloof
- Met die Gesindheid van Jesus Christus
Sinodale Sendingkommissie (SSK)
Die Sinodale Sendingkommissie (SSK) se hoofdoelwit is die desentralisering van die sendingtaak vanaf die Sinodale kommissie na die plaaslike gemeente. Aksie 1:8 is die frontorganisasie waardeur hierdie Bybelse doelwit op grondvlak deurgevoer word.
MOB vir die toekoms - Op pad die toekoms in is ons uitgedaag om te volhard en gerig op drie fokuspunte nl. Mobilisering, opleiding en bereiking (MOB).
-
Mobilisering
Elke Bybelse en evangeliese gemeente moet ‘n helder begrip hê van haar rol in die evangelisering van die wêreld.
Mobilisering van die kerk behels die proses om lidmate vanuit ‘n “passief-kerkbank-sittende-seën- ontvangende” posisie na ‘n aktiewe lewende entoesiastiese missionêre betrokke en strategies-dinamies uitlewing van die Groot Opdrag te verskuif.
-
Opleiding
Geestelike leiers moet opgelei en toegerus word om te gaan en ander te leer. Deeglike nasorg moet gedoen word. Jesus het gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels en leer hulle . . .” Goeie opleiding en geestelike toerusting is integraal deel van die Groot Opdrag!
-
Bereiking
Die verlore wêreld moet met die beste nuus van Jesus se koms vir sondaars bereik word op elke en enige moontlike manier.
Elke land, stad, dorp, gemeenskap, familie, of etniese groepering moet binne bereik van ‘n evangeliese getuienis en kerk gebring word. Daarom is dit ons droom om elke kind van God in elke gemeente op een of ander wyse te betrek by die Groot Opdrag, want elke hand, almal se talente en gawes is nodig om hierdie groot taak uit te voer.
Net hierdie geslag gelowiges is verantwoordelik vir en kan hierdie geslag verlorenes bereik.
Met MOB in die visier vertrou ons die Here vir ‘n 1 000 voorbidders, 850 nuwe finansiële ondersteuners (Projek 850) en 10 nuwe gemeentes, wat ‘n bediening van totale evangelisasie sal implementeer. Dit is Hand. 1:8-gemeentes, vervul met die Heilige Gees en aktief in alle fassette by plaaslike, transkulturele en buitelandse evangelisasie betrokke d.m.v. gebed, finansies en spontane sendingaktiwiteite.
EG Kweekskool
Huidige Dosente
Ds. Jurg en Mev. Mandi Prinsloo (prinsipaal)
Ds. Gerhard en Mev. Aisa de Wet (dosent)
Ds. Daniel en Mev. Kirsten Brink (dosent)
Betshan – Tuiste van God se geroepenes
Op 28 Februarie 1945, nagenoeg ‘n jaar na die stigting van ons geliefde kerk, het God in Sy groot genade en voorsienigheid, die Kerk vertrou om self geroepenes op te lei. Nadat leraars hoofsaaklik vanuit die geledere van die ou Betshan-inrigting te Bloemfontein, die AEB Bybelskool en andere opgelei is, het die pasgestigte Kerk hierdie baie belangrike deel van die werk self begin bedryf.
Betshan dateer vanaf einde Februarie 1935 toe wyle ds. Scheepers sy gemeentelike bediening verlaat het om ‘n beweging – die Betshanbeweging – te begin waar krankes, vanuit die Woord onderrig is. In 1936 is ‘n Bybelskool op die terrein begin vanwaar geestelike werkers die land ingestuur is.
Ongeveer ‘n maand na die afsterwe van ds. Scheepers is die Betshanterrein aan die nuwe Kerk oorgedra. Die opleiding van geestelike werkers/leraars sou voortaan onder die vaandel van die Murray Bybel Instituut, geskied onder leiding van dr. D.J. de Vos en sy broer, ds. J.F. de Vos. Weens onvermydelike omstandighede was die Kweekskool in ‘n stadium gesluit (einde 1947), maar na die heropening in Februarie 1952 is die opleiding voortgesit onder die vaandel Die Nuwe Protestantse Kerk Kweekskool. Di. J.P. Prinsloo (prinsipaal) en P.J. van der Westhuizen was die dosente tot en met die Sinode van 1957.
Die jare na Bloemfontein
Aan die einde van 1956, begin 1957, is die Kweekskool verskuif na Spaarwater, tussen Nigel en Heidelberg. Intussen is ds. en mev. S.J. Becker deur die Sinode van 1957 as prinsipaal en huisouers aangewys. Die terrein wat aangekoop is, was deel van ‘n Goudmynontwikkeling. Die goudmyn het egter oorstroom en die ontwikkeling het gestaak. Met die aankoop van hierdie terrein het die Kerk in besit gekom van die myn se hospitaalkompleks en kon opleiding van leraars daar begin. Tydens die Sinode van 1960 is besluit dat die naam van die nuwe terrein ook Betshan sal wees. Diehoofgebou wat aanvanklik net ‘n enkelverdieping was, is later opgebou tot ‘n dubbelverdieping. Afgesien van die opleiding van talle geroepenes, het Betshan die hart van Kerklike bedrywighede geword deur die jaarlikse Betshankonferensie, Sinodale vergaderings en ander kerklike funksies.
Behoefte na ‘n ander terrein
Vanweë verskeie redes het die behoefte ontstaan na ‘n ander Kweekskoolterrein. In 1981 het die Sinode dan ook besluit om Betshan in die mark te sit. Onder leiding van die destydse prinsipaal, wyle ds. F.S. Coetzee, is begin om fondse in te samel onder lidmate en ander vrywillige donateurs. Verskeie terreine is oorweeg asook grond aangekoop te Rooihuiskraal, Centurion. Planne was gereed om met die bouprojek te begin toe God in Sy groot genade en voorsienigheid die huidige terrein beskik. Nie net was dit God se voorsiening tot ‘n geweldige finansiële besparing vir die kerk nie, maar die terrein, bekend as Espada Ranch, was geskik tot die doel en vereistes van die Kerk. Na die aftrede van wyle ds. Coetzee, is die huidige terrein verbeter en ontwikkel onder die bekwame leiding van dr. Willie Kotzé. In 2005 is die nuwe Betshan in gebruik geneem.
Doserende personeel
Voltydse dosente vanaf die begin jare was Ds. J.F. De Vos (prinsipaal), mej. H. Mouton, di. J.P. Prinsloo (prinsipaal), P.J. van der Westhuizen, S.J. Becker (prinsipaal), A. Grobler, mev. L. Fourie, dr. H.E.W. Backeberg, di. H.O. Storm (prinsipaal), F.S. Coetzee (prinsipaal), drr. W.J. Kotzé (Prinsipaal), E.J. Zevenster, C.K. Fourie, P.A. Rousseau, di. R.D. Beukes, F.S Smith, drr. J.D. Mienie, A.J. Bester (prinsipaal) en ds. W.M. Snyders. Huidige doserende personeel is di. J.P. Prinsloo (prinsipaal), G.G. de Wet, D. Brink.
Kurrikulum en studietermyn
Die lengte van die leerplan oor die jare het gewissel. In 1956 is daar bv. besluit dat die termyn vir nie-vooraf gegradueerdes, vyf jaar sal wees en gegradueerdes se studietermyn drie jaar. Die algemene studietermyn vir ‘n aantal jare was drie jaar en later is dit vasgestel op vier jaar met ‘n vyfde jaar as ‘n praktiese jaar.
Studente deurloop ‘n Geestelike Werkerskursus, wat die eerste twee jaar van opleiding behels. Mans persone wat geroepe voel as leraars, kan daarna voortgaan na die derde en vierde jaar wat as die Predikantekursus bekend staan. Vir ons voornemende predikantsvroue is daar ook ‘n Predikantevrouekursus wat deurloop word gedurende die derde en vierde jaar van hul mans se opleiding.
Tans bestaan die Kurrikulum uit vyf hoof kursus groeperinge
Bybelkunde:
Ou en Nuwe Testament, Inleiding tot Nuwe Testament, Bybelse argeologie en geografie, Hermeneutiek wat bestaan uit die belangrike aspek van verstaan en verklaring van die Skrif.
Dogmatiek:
Bybelse leerstellinge, soos die leer oor God, Christus, die Heilige Gees, die Verlossingsleer, die leer oor sonde, die kerk, die uitverkiesingsleer, die mens, die skepping , die openbaring nl. die Bybel en die leer aangaande die eindtyd gebeure.
Praktiese Teologie:
Vakke te doen met die bedieningspraktyke soos, praktiese teologie, kerkreg, missiologie, homiletiek (preekkunde), pastorale berading, evangelistiek, liturgiek, gebedsleer, Goddelike genesing en kinderevangelisasie.
Tale:
Hellenistiese Grieks en Praktiese Afrikaans.
Kerkgeskiedenis:
Algemene Kerkgeskiedenis, geskiedenis van eie kerk en Suid-Afrikaanse Kerkgeskiedenis.
Toekomsvisie van die Kweekskool
Soos in die verlede wil ons voortgaan, om geestelike werkers, evangeliste en predikante op te lei vir die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika.
Ons opleiding het ten doel om studente toe te rus om effektief die ewige onfeilbare Woord van God te verkondig, herderlike sorg te verskaf en die nodige toerusting en motivering aan lidmate te bied, ons studente toe te rus, deur die instaatstelling van die Heilige Gees, om Jesus as die hart van die evangelie, te verkondig aan ‘n mensdom in nood.
Die Seminarie van die Evangelies-Gereformeerde Kerk sien hul taak om die Kerk by te staan in die behoud van leer, karakter en doel waarvoor God ons as Kerk hier aan die Suidpunt van Afrika geplaas het.
Slotwoord
Ons dank God vir die jare wat verby is – die jare waarin talle geroepenes opgelei is om die Woord van God te verkondig. God het deur die Kweekskool aan geroepenes die platform gebied om die evangelie in sy reine waarheid te verkondig. Ons dank aan God vir leraars en werkers wat hul opleiding geëer en getrou gebly het aan dit wat aan hul oorgedra is met die besef dat dit alleen deur God se genade was.
Die Kweekskool wil steeds die voedingsbron van die EG Kerk SA se leraars en geestelike werkers wees, tot die dag van Sy verwagte wederkoms.
Saamgestel deur die prinsipaal, ds. J.P. Prinsloo (Feb. 2021)
Kontakbesonderhede
Fisiese adres:
Seminarie van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika Betshan, Plot 189, Tiegerpoort, 0056.
Google Maps koördinate:
25.876944, 28.411389 of 25°52’37.0”S 28°24’41.0”E
Posadres:
Seminarie van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika
Posbus 2444
Zwavelpoort, 0036.
Epos:
egkweekskool@gmail.com
Telefoniese navrae
Mev. Mandi Prinsloo (Kantoor) Tel. 012 811 0484
Ds. Jurg Prinsloo (Prinsipaal) Sel. 083 302 6800
Eden Konferensieterrein
In die jaar 1983 is daar aan alle predikante en belangstellendes kennis gegee om by Rietfonteingemeente saam te kom. ‘n Besluit moes geneem word oor die wenslikheid om Eden as ‘n konferensieterrein vir die Kerk aan te koop, al dan nie. Vanweë die toename in getalle was die Kweekskoolterrein te Betshan net nie meer groot genoeg om al die konferensiegangers te huisves nie.
In Augustus 1983 word Eden toe as konferensieterrein deur die Kerk aangekoop. Op 3 Desember 1983 is die eerste konferensie te Eden gehou en die hoeksteen deur wyle oom Tok van Rensburg onthul. In 1986 het wyle oom Dave Erasmus 10 geboue bestaande uit vier kamers elk, opgerig.
Daar is gou besef dat hierdie terrein nie sonder permanente toesig sal kan voortbestaan nie. Ds. Boet van Rensburg is as eerste bestuurder/faktotum aangestel en hy het op 1 September 1991 diens aanvaar. Met die aankoop van Eden was daar ‘n kerksaal, kombuis, twee slaapsale, onderskeidelik vir seuns en dogters en 12 rondawels. Baie gou is ontdek dat die kerksaal en kombuis nie meer voldoende is vir die toenemende getal konferensiegangers nie. 'n Bykomende saal "Die Jeugsaal" is ook opgerig.
Na die aanlê van krag deur mnr. Leo Kuyper, is die slaapsale van die seuns en dogters opnuut vergroot deur die aanbou van 7 kamers aan elk wat elkeen 3 beddens bevat het. Daarna is die slaapsale verdeel in twee gedeeltes elk met badkamergeriewe vir ouer alleenlopende persone. Water was ‘n groot probleem. ‘n Tweede boorgat het ook nie die waternood verlig nie. ‘n Derde is in 1995 gesink wat tot vandag toe voldoende water lewer. Wat verder meegehelp het om groot verligting te bring, was die oprigting van vier groot watertenks.
Intussen is daar ook deur die Kerk besluit om aftree-erwe aan lidmate te verkoop. Tans is daar 4 (insluitende die van Rensburgs) gesinne op Eden woonagtig wat weekliks saam bidure hou.
Die nuutste toevoegings tot Eden is 'n swembad en 'n hindernisbaan wat veral by die Jongmense groot aanklank vind.
Naas kerklike byeenkomste en konferensies word die terrein ook deur ander instansies en kerkgenootskappe gebruik. Baie siele het die Here al as Verlosser op Eden ontmoet en talle kinders van die Here is oor die afgelope aantal jare gereinig en geheilig. Die ewigheid sal eendag toon wat Eden vir siele beteken het.
Lofdal Konferensieterrein
Lofdal en die Lofdal konferensies het van die vroeë vyftiger jare in die Kerk ‘n geweldige geestelike rol gespeel. Lofdal was die naam van die oorspronklike plaas waarvan ‘n deel aan die Kerk geskenk is deur oom Fred en tannie Mattie Hattingh en wat later verruil is vir die huidige terrein.
Die akkommodasie vir die eerste konferensies was klein ronde tentjies, ‘n groot tent vir dienste, tydelike ablusie- en kookgeriewe. Die konferensies het tien dae lank geduur en was uiters geseënd. Talle sondaars het die Here Jesus op Lofdal leer ken as Saligmaker.
Kinders van God het Hom as Heiligmaker en goddelike Geneesheer ontmoet. Heelwat manne en vroue is op konferensies deur die Here tot voltydse diens geroep, waarvan talle, predikante in ons kerk en selfs in ander kerke geword het. Vir byna dertig jaar is gereelde konferensies in die winter gehou.
Twee en sestig rondawels, ‘n woonhuis vir die faktotum, ‘n saal, ablusieblokke sowel as ‘n kombuis is opgerig. In 1980 moes die terrein egter verkoop word aan die regering en vir die volgende twaalf jaar kon geen winterkonferensie gehou word nie.
Deur ‘n wonderwerk van God kon die plek uiteindelik weer teruggekoop word en is konferensies van vyf dae hervat. Baie verbeterings is en word nog steeds aangebring. Ons kan net sê dat die hand van die Here al die jare waarlik op Lofdal was en steeds is.
Die hoogtepunt gedurende die 2003 Lofdal-konferensie was toe die gebedskamer, wat ‘n jarelange behoefte was aan die Here toegewy kon word. Die Here het voorsien dat ‘n elektriese omheining om Lofdal opgerig kon word om die veiligheid van die terrein vir die Faktotum en kampeerders te verbeter.
Die afgelope jare het die behoefte ontstaan vir manne- en vrouekampe, huweliksverrykingsseminare en kampe vir die jeug wat gemik is op die uitbou van leierskap. Die “Nuwe Lofdal” probeer by uitstek aan dié behoeftes voldoen asook om ‘n rusplek te wees vir kinders van God.
Mag die konferensies hier steeds groei en talle sondaars die Here leer ken as Saligmaker en kinders van God Hom as Heiligmaker en goddelike Geneesheer leer ken. Mag talle jongmense hier geroep word tot voltydse evangeliese bediening en kinders van God wederkomsgereed gemaak word totdat Hy weer sal kom! Maranata!
EG Kerk Nuus
Kontak
Vir meer inligting oor die EG Kerk en aksies, kontak gerus die Kerkkantoor
Sakramente
Die Doop
Die doop word bedien deur besprinkeling aan kinders van gelowige ouers en aan ongedoopte volwassenes nadat hulle belydenis van geloof afgelê het. Die kerk glo dat die doop nie 'n mens kan red nie, maar dat dit heenwys na die afwassing van sondes deur die bloed van die Here Jesus
Die Nagmaal
Die nagmaal is bedoel om deur kinders van die Here gebruik te word om saam die dood van die Here Jesus te herdenk.
Databasis video
Navrae:
Ds Wim Smith: 082 550 3623