Instansies

Christelike Jeug Vereniging (CJV)

Die Beginjare

Gedurende die Sinode van 1959 is daar ʼn spesiale versoek gerig deur die afgevaardigdes van Vereeniginggemeente, naamlik ds. J.A. Saunders en br. J. Annandale dat spesiale aandag aan die Jeug van ons kerk gegee moet word.  Die Sinodale Jeugkommissie (SJK), voortspruitende uit hierdie versoek, het bestaan uit di. Saunders en Naude en br. Annandale.

Die eerste landswye saamtrek vind plaas in dieselfde jaar in die Hope Hall, Johannesburg – ʼn onvergeetlike opkoms en program!  ʼn Boodskap deur student C. Devenier word gelewer.  In opdrag deur die SJK, word ʼn tweede saamtrek in die begin van 1960 deur br. Hennie Pansegrouw gereël in die Selbournesaal, ʼn sy-saal van die Stadsaal in Johannesburg.  Dit het egter in die hart van br. Pansegrouw gelewe dat daar ʼn Jeugvereniging vir die kerk gestig moet word en is daar in dieselfde jaar tot aksie oorgegaan om hierdie doel te verwesenlik.

Stigting van die Christelike Jeug Vereniging (CJV)

Die stigting van die CJV vind plaas op 5 September 1960 te Krugersdorp in die sysaal van die Stadsaal.  Afgevaardigdes van die volgende gemeentes was teenwoordig: Belfast, Boksburg, Brakpan, Carletonville, Frankfort, Johannesburg, Krugersdorp, Klerksdorp, Nigel, Pretoria, Rustenburg, Springs en Vereeniging.

ʼn Baie besielende en treffende boodskap word deur ds. H. Storm gebring met die volgende drie hoofgedagtes: WANDEL, WAAK en WERK.  Die Kongres het dan ook op die woorde as leuse van die Jeug besluit.

Die naam Christelike Jeugvereniging het ook sy ontstaan op hierdie kongres gehad.

Die eerste Sentrale Jeugbestuur het bestaan uit die volgende verkose lede:
Mnr. H.M. Pansegrouw (Voorsitter)
Mnr. C. van Greunen (Sekretaris)
Mnr. B. Stieger (Penningmeester)
Mej. S. Strydom
Mnr. M. Venter & P. Oosthuizen (Addisionele Lede)

Ds. J.A. Saunders word ook as eerste Jeugpresident gekies.

Jeugkamptyd

Die idee van ʼn Jeugkamp het groot byval onder die jeug gevind en is met opgewondenheid begroet.  Derhalwe is die eerste Jeugkamp gehou vanaf 27 tot 30 Maart 1964 op oom Willy Gravette se plaas Tamboekiesfontein, naby Heidelberg.  Geen infrastruktuur vir die hou van ʼn Jeugkamp met ongeveer 250 jongmense het bestaan nie en gevolglik moes alles self voorsien word, van tente opslaan, kook- en wasgeriewe en die aanry van drinkwater.

Die keuse van ʼn spreker het geval op ʼn dame, Mary Morrison (nou Peckham), vanaf die Hebrides-eilande, Noord-wes van Skotland.  Die Here het geweet wat Hy beoog het en die ewigheid sal openbaar wat die uitvloeisel van haar prediking was.  Sy het na haar besoek aan S.A. gesê dat die Jeugkamp op Tamboekiesfontein haar sterk herinner het aan die herlewing in die Hebrides.

ʼn Mens onthou nog hoe die jongmense in die middel van die diens uitgeloop het en God gaan soek het, onder bossies ingekruip en gebid het en ʼn gees van gebed, berou en soeke na God oor die rantjies van Tamboekiesfontein afgedaal het.  Jongmense het in baie gevalle regdeur die nag na persoonlike werkers se tente gegaan om hulp te soek en in sommige gevalle was die tent leeg, omdat die persoon self iewers in die veld op sy/haar aangesig voor God was.

Menigte Jeugkampe het hierna gevolg en is op gereelde grondslag aangebied te Betshan, Nigel en daarna ook op Wonderbaarterrein.  Deesdae word ons Jeugkampe aangebied te Edenkonferensieterrein. 

Ruimte ontbreek om van al die Jeugkampe te kan verslag doen, maar daar is tog ʼn paar geestelike hoogtepunte wat dien om vermeld te word.  Tydens ʼn spesifieke Jeugkamp te Betshan het die Jongmense so onder sonde-oortuiging gekom dat die kombuis byna een aand aan die brand was soos die jongmense artikels in die koolstoof kom gooi het soos sigarette, grimeersakkies en ja selfs kassette met musiek daarop.  Die gebedskamer was deurentyd “te vol” en moes jongmense elders gaan plek soek vir aanbidding en soeke na God.  Dit is ook in herinnering, dat tydens ʼn besondere groot Jeugkamp van bykans 950 jongmense, die geestelike werkers amper nie genoeg was nie, om die talle siele te help wat tydens die gebruiklike samesang na die aanddiens ook onder sonde-oortuiging gekom het en d.m.v. die besielende koortjies uitgedryf is om hulp te soek.

Vanaf 2013 is die Kweekskoolstudente baie nou betrokke by die Jeugkampe.  Hulle dien as groepleiers.  Hulle doen baie geestelike werk op ʼn een-tot-een basis.  Dit help baie met die opleiding van predikante om effektief met die jongmense te kan werk.  Die progam tydens die Jeugkamp het ook saam met die hele proses gegroei.

Jeugsaamtrekke en -kongresse

Menigte jongmense kan getuig van die geseënde Jeugsaamtrekke wat oor die land gehou was, gewoonlik in die vorm van ʼn sangaand en getuienisse.  Die saamtrek te Vanderbijlpark was lank onthou vir die heerlike atmosfeer wat daar geskep was deurdat almal vooraf piekniekmandjies gepak het en voor die amptelike verrigtinge heerlik op die gronde van die Technikon gesellig saam verkeer het.

So het die Jeug dan ook jaarliks Kongres gehou waar verslae behandel is, belangrike besluite geneem is en die Sentrale Hoofbestuur gekies is,

Kinder- en Jeugorganiseerder (KJO) & Sinodale Jeugkommissie (SJK)

Die CJV is trots om ook deur die KJO en SJK gelei en onderrig te word en die twee identiteite dra die belange van die jongmense op die hart en is ook die skakel na en vanaf die Sinode.

Ds. J.A. Saunders was die eerste Jeugpresident en talle ander leraars het die pos beklee soos di. Hennie Storm, Johnnie Mienie, Johan Tolken, Fred Haupt en Danie van Rensburg.  Die JO het mettertyd van hierdie take oorgeneem en was onder andere br. Hennie Pansegrouw, ds. Marius van Jaarsveld en tans ds. Wimpie Raath wat ook die Kinderbediening behartig.

Ons moet ook al die voormalige SJK lede bedank vir hulle onbaatsugtige diens en leiding in die Jeugsake.  Die huidige SJK sien soos volg daarna uit: Di Wimpie Raath (KJO), Andrew Bruyns, Woodford Kotze en Willie Olivier.

Toekomsvisie

Die aanslag op die jongmense moes ook aanpas by die veranderde samelewing.  Die Kerk wil relevant bly in die tyd waarin ons lewe.  Daar word gepoog om die jongmense te akkommodeer in die kerk deur hard te werk om die generasiegaping tee te werk. Ten spyte van kleiner gesinne en ʼn samelewing wat nie meer lojaal teenoor kerke is nie, wil die EG Kerk SA getrou bly aan haar roeping en die kerk se jongmense vasmaak aan die kerk se viervoudige boodskap.

Die volgende generasie leiers moet nou invloei om die leiding te kan oorneem, getrou aan die Jeug se leuse WANDEL, WAAK, WERK!

Kontakbesonderhede

Sinodale Jeugkommissie

Ds. Andrew Bruyns (Sameroeper)
081 364 4912
andrewbruyns01@gmail.com

Alle Ringsjeugvoorsitters vorm saam die kommissie

Facebookblad

https://www.facebook.com/egkerkjeug

Christelike Vroue Vereniging (CVV)

Die Sentrale Kommissie tesame met elke gemeentelike vrouevereniging stel hul ten doel om Jesus se opdrag in Matt. 28:19 – “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies” te gehoorsaam en die geestelike belange van elke vroue-lidmaat te bevorder.

Eensgesindheid en samewerking vereis dat voortdurend kontak gehou moet word met elke predikantsvrou en CVV lid. Briewe en kaartjies van bemoediging word op gereelde basis gestuur met Moedersdag, verjaarsdae, Kersfees en waar daar ‘n behoefte is. Die vroue van emeritusleraars asook damestudente se welstand lê ons na aan die hart.

Ons het almal voorbidding nodig en kan elkeen op só ‘n wyse betrokke raak deur ander se laste te help dra. Mag die Here u getrou hou om vir die Sentrale Kommissie met ons beplanning in gebed te dra.

Ons jaarlikse Vrouekamp gaan van krag tot krag en dit is ons visie dat vele dames geestelik opgebou sal word. Wysheid en insig word van die Here gebid in die opstel van die program.

Alleen die toewyding van predikantsvroue, hul ywer en meelewing kan van die 2 -jaarlikse Kongres waartydens die Sentrale Kommissie aan die Kongres verslag doen, ‘n sukses maak.

Dis ons begeerte dat elke gemeentelike vrouevereniging saam sal werk en getrou hul tiendes en verslae sal opstuur.

Spesiale Fondsinsamelings word baie goed ondersteun en aangewend om onder andere jong gemeentes finansieel te ondersteun.

Spanwerk en die gebedsondersteuning van elke voorbidder maak dit moontlik vir die Sentrale Kommissie om te volg waar Jesus Christus ons lei.

Die toekomsdroom van die Sentrale Kommissie vir ons as Christelike Vrouevereniging se “bootreis” met Jesus as ons Stuurman, is om:

  • In Liefde
  • Aanvaarding
  • Nederigheid
  • Saam te bid, te werk en te stry in die geloof
  • Met die gesindheid van Jesus Christus

Silwerjeugaksie (SJA)

Sedert 1960, na ‘n duidelike roeping, was Hennie Pansegrouw direk betrokke by die Christelike Jeugvereniging. Na 40 jaar het hy uitgetree. Vir jare lank was hy reeds bewus van die geweldige leemte wat daar bestaan ten opsigte van die Senior Burgers van ons Kerk. Die Heer het deur die werking van die Heilige Gees ‘n las op sy hart geplaas om iets daadwerkliks daaraan te doen.

So is ‘n Senior Burgergroep in Krugersdorp op die been ge­bring. Vir ‘n jaar lank het die groep elke 14 dae byeengekom. Die byeen­komste het die vorm aangeneem van bidure afgewissel met ge­sellige geleenthede. Twee keer het die groep vir ‘n week na Klein Kariba gegaan. Sedert 1993 het die Badplaastoer ‘n jaarlikse instelling geword.

Na Sinodale toestemming is die Silwerjeugaksie van die Evangelies-Gereformeerde Kerk gestig. ‘n Sentrale liggaam is saamgestel en takke – elk met ‘n volwaardige bestuur, is gestig. Dit het soos ‘n veldbrand versprei en ons harte is in aanbidding teenoor die Here vir sy seën.

Die volgende 3 byeenkomste het ‘n jaar­likse instelling geword: ‘n Saam­trek tydens Maart; ‘n Silwerjeugkonferensie te Eden in September en in Oktober hou ons ‘n sangfees waaraan oud en jonk kan deelneem.

‘n Baie spesiale byeenkoms wat deur die SJA gereël is, was die 89ste verjaardagviering van die oudste lewende tweeling in ons land, di. Willie en Adam Grobler. By hierdie ge­leentheid is ‘n tjek aan albei oor­handig.

Die belangstelling was oorweldigend en die tafels het gekraak onder die heerlike ver­versings wat deur almal bygedra is. Ons was selfs bevoorreg om ‘n televisiespan van die SAUK in ons midde te hê.

Vir die toekoms is dit ons hartewens dat ‘n Silwerjeugtak in elke gemeente gestig sal word. Verder is dit ‘n groot behoefte om ‘n hand uit te reik na ons ouer emeritus leraars en die weduwees van ontslape predikante. In hierdie verband is daar reeds donasies ontvang en aan verskeie persone oorhandig.

Die Bestuur van die SJA

Agter: Thys Jacobs (Onderleier Witbank), Henry Jacquire (Streekleier Westelike Ring), Willie Cooper (Streekleier Randse Ring Springs), ds. Gert Coetzer (President Nigel), Danie Oberholzer (Streekleier Oostelike Ring Kriel).

Voor: Annette Venter  (Sekretaresse Pta-Oos), Gerda van Rooyen (Noordelike Ring Pta-Oos), Annatjie Lehman (Tesourier Nigel), Andre Smuts (Hoofleier Kemptonpark).

Afwesig: Ds. Coenie Smit (Erelid Meyerton), Sam le Roux (Erelid Pta Rietfontein), Hannie Zietsman (Westelike Ring).

Sinodale Evangelisasie- en Uitbreidingskommissie (SEK)

Die Beginjare

Die SEK het sy onstaan nie baie jare na die stigting (1944) van die EG Kerk SA nie-  of soos die kerk destyds bekend gestaan het as die Nuwe Protestantse Kerk in Afrika.  Reeds tydens die Sinode van 1956 te Betshan, Bloemfontein, met 49 lede uit 23 gemeentes waarvan 23 predikante was, is die behoefte uitgespreek vir ʼn Evangelisasiekommissie en word daar deur die vergadering besluit om so ʼn kommissie daar te stel. Die eerste lede was di. Chris Serfontein, SJ Fourie en Chris Cronje. Tydens die vergadering is ʼn Evangelisasiefonds gestig waardeur gemeentes voortaan bydraes sou maak, uitsluitlik vir die evangelisering van siele en die stigting van gemeentes.

Tans staan die destydse Evangelisasiekommissie bekend as die Sinodale Evangelisasie- en Uitbreidingskommissie (SEK). Tydens die Sinode van 1976 is die SEK in die lewe geroep met Ds. Attie Olwagen as Voorsitter.

Die eerste Spesiale Evangelieprediker

Die daaropvolgende jaar se Sinode in 1957 met nou reeds 57 afgevaardigdes, het die weg gebaan vir dit wat ons vandag ken as die Organiserende Evangelisasie Sekretaris of te wel die OES. Na die stigting van die Evangelisasiekommissie in 1956 het die Kuratorium vir Ds. Sol Pienaar toegelaat om tot einde van 1957 spesiale evangelisasieprediking in die Kerk te doen. Die Sinode van 1956 het egter ʼn voltydse pos geskep vir ʼn Spesiale Evangeliedienaar en is ds. Louw Pienaar gevra om die pos te vul. ʼn Spesiale kommissie is ook daar benoem om spesifiek evangelisasieveldtogte te reël, nl. di. Chris Serfontein, Chris Cronje en Sol Pienaar. Tydens die Sinode 1976 is ʼn verdere besluit in die verband geneem toe daar besluit is om pos van Spesiale Prediker te skep.

Die pos van Spesiale Prediker wat in 1976 geskep is, is tydens die 1977 Sinode vervang met Organiserende Evangelisasiesekretaris met ds. Lambert van Sittert, die eerste OES. Hierdie pos is ook beklee deur di. Fred Haupt, Hennie Prinsloo, Bill Barkley, Frik Lombard en tans ds. Johan Cloete. Van die vorige lede het meer as een keer as die OES gedien.

Beleid

Die hooftaak van die kerk, naamlik sinode, ringe en kerkrade, is om deur sy ampsdraers amptenare en lidmate die evangelie uit te dra aan alle volke, tale en nasies.  Die SEK is in die lewe geroep om in die gebied waar die kerk funksioneer evangelisasie en uitbreiding te behartig.

Hierdie taak word nie uit die hande van diegene wat daarvoor verantwoordelik is geneem nie, maar is aanvullend waar omstandighede hul verhinder om hul taak uit te voer:

  • Die uitbreiding van die koninkryk van God in die algemeen en in die kerk in besonder.
  • Die hou van evengelisasieveldtogte in samewerking met kerkrade en ringe waar van toepassing.
  • Reël jaarliks die evangelisasiedag wat gehou sal word op die naaste Sondag aan Hervormingsdag (31 Oktober).
  • Publikasie en verspreiding van geestelike lektuur na goeddunke.
  • Onselfstandige gemeentes en ander werkkringe onder sy sorg te neem.
  • Onselfstandige gemeentes te stig.
  • Onselfstandige gemeentes te help tot selfstandigwording.
  • Die beroep van predikante en proponente in diens van die SEK.
  • Die plasing van predikante en proponente in samewerking met kerkrade en ringskommissies waar van toepassing.
  • Die gereelde besoek aan gemeentes en persone onder sy sorg.

Hoe kan ek deelneem aan die groot opdrag (Matt. 28:19)?

1. Bid vir die redding van verlore siele in u omgewing, maar ook in ons land (1 Tim. 2:1-4, 2 Pet. 3:9).

2. Bid dat die Here u gemeente oop deure sal gee om die verlorenes te bereik met die evangelie en vir die Koninkryk te wen.

3. Bid ernstig dat die Here iemand in u gemeente sal roep tot voltydse diens (Luk. 10:2).

4. Bid vir die taak van die SEK en al die gemeentes onder sorg van die SEK.

5. Nooi iemand biddend na u gemeente se dienste om na ‘n evangelieboodskap te luister.

6. Bid asb. vir u leraar en dat die Heilige Gees hom ‘n oop deur in die Woord sal gee (Kol. 4:3).

7. Deel self die evangelie deur woord, daad en traktaat.   (U kan ‘n bestelling van geestelike literatuur plaas by die OES.)

Hoe kan ek die SEK ondersteun?

1. Bid getrou vir die SEK en sy werksaamhede.

2. Deur finansieel by te dra en te help om die groot taak van die SEK te finansier.

3. Eenmalige bydrae ten tye van evangelisasiedag of daarna.

4. ‘n Maandelikse EFT bydrae aan die SEK.

5. Sou u graag as medewerker in hierdie saak betrokke wou wees, word u uitgenooi om met die SEK in verbinding te tree:

Sinodale Evangelisasie Kommissie
Eerste Nasionale Bank – The Victorian
Takkode 250054
Rekeningnommer 5244 000 9241

U kan ook deur ZAPPER ‘n bydrae maak

Huidige situasie

23 Selfstandige gemeentes het hul oorsprong as ʼn SEK onselfstandige gemeente: Benoni, Bethal, Bethlehem, Brits, Ellisras, Fochville, Frankfort, George, Lichtenburg, Malmesbury, Mosselbaai, Newcastle, Nylstroom, Oudtshoorn, Phalaborwa, Potchefstroom, Pretoria-Oos, Richardsbaai, Tygerberg, Tzaneen, Upington, Warmbad en Worcester. Vanuit hierdie gemeentes het nog gemeente-afstigtings onstaan wat die getal groter maak. Hierdie gemeentes kan terugkyk na ʼn klein en nederige begin, maar die genade van die Here het siele en vrug op die werk gebring
tot groei en vooruitgang deur standvastige en getroue arbeid, gebed en ondersteuning.

Daar is tans 11 gemeentes onder sorg van die SEK: Bloemfontein, Bredasdorp, Durban, Jeffreysbaai, Kroonstad, Margate, Oudtshoorn, Parys, Port Elizabeth-wes, Upington en Vryheid.

Fotoalbum

Leraars teenwoordig tydens Ds Johan Cloete se Ontvangs en Bevestiging as OES. Agter:  Di. Wimpie van Vuuren, Herman Kriel en Gerrie van Dalen. Voor:  Di. Jurg Prinsloo, Johan Cloete en Dr. Andre Bester

Na die aftrede van Ds. Danie van Rensburg as Voorsitter, is Ds. Jurg Prinsloo (sr.) as Voorsitter verkies. Saam hom is die ander lede van die SEK tans di. Rudi Beukes, Coenie Coertze, Johnnie Gates, Jurgens Prinsloo (jr.) en Wimpie van Vuuren, met ds. Johan Cloete as die OES.

Sending

Die Sinodale Sendingkommissie (SSK) se hoofdoelwit is die desentralisering van die sendingtaak vanaf die Sinodale kommissie na die plaaslike gemeente. Aksie 1:8 is die frontorganisasie waardeur hierdie Bybelse doelwit op grondvlak deurgevoer word. MOB vir die toekoms – Op pad die toekoms in is ons uitgedaag om te volhard en gerig op drie fokuspunte nl. Mobilisering, opleiding en bereiking (MOB).

·   Mobilisering

Elke Bybelse en evangeliese gemeente moet ‘n helder begrip hê van haar rol in die evangelisering van die wêreld. Mobilisering van die kerk behels die proses om lidmate vanuit ‘n “passief-kerkbank-sittende-seën- ontvangende” posisie na ‘n aktiewe lewende entoesiastiese missionêre betrokke en strategies-dinamies uitlewing van die Groot Opdrag te verskuif.

·   Opleiding

Geestelike leiers moet opgelei en toegerus word om te gaan en ander te leer. Deeglike nasorg moet gedoen word. Jesus het gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels en leer hulle . . .” Goeie opleiding en geestelike toerusting is integraal deel van die Groot Opdrag!

·   Bereiking

Die verlore wêreld moet met die beste nuus van Jesus se koms vir sondaars bereik word op elke en enige moontlike manier. Elke land, stad, dorp, gemeenskap, familie, of etniese groepering moet binne bereik van ‘n evangeliese getuienis en kerk gebring word. Daarom is dit ons droom om elke kind van God in elke gemeente op een of ander wyse te betrek by die Groot Opdrag, want elke hand, almal se talente en gawes is nodig om hierdie groot taak uit te voer. Net hierdie geslag gelowiges is verantwoordelik vir en kan hierdie geslag verlorenes bereik. Met MOB in die visier vertrou ons die Here vir ‘n 1 000 voorbidders, 850 nuwe finansiële ondersteuners (Projek 850) en 10 nuwe gemeentes, wat ‘n bediening van totale evangelisasie sal implementeer. Dit is Hand. 1:8-gemeentes, vervul met die Heilige Gees en aktief in alle fassette by plaaslike, transkulturele en buitelandse evangelisasie betrokke d.m.v. gebed, finansies en spontane sendingaktiwiteite.

Kinderbediening